Toekoms van die Aarde

’n Kunstenaarsvoorstelling van hoe die Son die Aarde oor sowat 7 miljard jaar sal verwoes wanneer die Son in sy rooireusfase is.[1]

Die biologiese en geologiese toekoms van die Aarde kan min of meer bepaal word deur die uitwerking van verskeie langtermyninvloede te voorspel. Dit sluit in chemiese veranderings op die Aarde se oppervlak, die afkoeling van die Aarde se kern, swaartekragwisselwerkings met ander voorwerpe in die Sonnestelsel en die toenemende ligsterkte van die Son. ’n Onsekere faktor in hierdie berekenings is die voortdurende uitwerking van tegnologie wat deur die mens geskep is soos geo-ingenieurswese,[2] wat groot veranderings aan die planeet kan meebring.[3][4] Die huidige uitwissing van plante en diere[5] word deur tegnologie veroorsaak[6] en die uitwerking daarvan kan tot vyf miljoen jaar duur.[7] Tegnologie kan ook tot die uitsterwing van die mens lei en veroorsaak dat die Aarde terugkeer na ’n stadiger pas van evolusie wat net deur langtermyn- natuurlike prosesse geraak sal word.[8][9]

Oor ’n tydperk van honderdmiljoene jare hou onvoorsiene gebeurtenisse in die ruimte ’n risiko in vir die biosfeer, en dit kan ook lei tot ’n massa-uitwissing. Dit sluit in botsings met komete of asteroïdes met ’n deursnee van 5-10 km of meer asook ’n groot sterontploffing, bekend as ’n supernova, binne ’n radius van 100 ligjare van die Son af. Ander grootskaalse gebeurtenisse is makliker om te voorspel. Dit sluit in globale verhitting en die voorspelling dat die planeet steeds deur ysperiodes sal gaan totdat die Kwartêre Ystydperk tot ’n einde kom. Hierdie ysperiodes word veroorsaak deur die eksentrisiteit, aksiale variasies en presessie van die Aarde se wentelbaan.[10] Binne 250-350 miljoen jaar sal plaattektoniek ook lei tot die ontstaan van ’n superkontinent, en binne 1,5-4,5 miljard jaar sal die Aarde se aksiale variasies chaoties raak en lei tot ’n verandering van tot 90° in die Aarde se aksiale helling.

In die volgende vier miljard jaar sal die ligsterkte van die Son algaande toeneem en lei tot ’n toename in die bestraling wat die Aarde bereik. Dit sal ’n afname van koolstofdioksied (CO2)-vlakke in die atmosfeer veroorsaak. Oor sowat 600 miljoen jaar sal die CO2 daal tot onder die vlak wat nodig is vir fotosintese en min plante sal dit oorleef. Eindelik sal alle plante uitgeroei wees. Dit sal feitlik alle dierelewe laat uitsterf, aangesien plante die basis vorm van die voedselketting op Aarde.

Oor sowat 1,1 miljard jaar sal die ligsterkte van die son 10% hoër wees as tans. Dit sal lei tot die verdamping van die oseane en plaattektoniek sal tot ’n einde kom.[11] Hierna sal die planeet se magnetiese dinamo tot ’n einde kom, wat die magnetosfeer sal laat afneem. Vier miljard jaar van nou af sal die toename in die Aarde se oppervlaktemperatuur lei tot ’n weghol-kweekhuiseffek. Teen daardie tyd sal die meeste, of dalk alle, lewe op die oppervlak uitgewis wees.[12][13]

Die mees waarskynlike lot van die Aarde sal uiteindelik wees dat dit oor sowat 7,5 miljard jaar deur die Son verslind sal word nadat die Son sy rooireusfase betree en tot verby die planeet se wentelbaan uitgesit het.

  1. Sackmann, I.-Juliana; Boothroyd, Arnold I.; Kraemer, Kathleen E. (1993), "Our Sun. III. Present and Future", The Astrophysical Journal 418: 457–468, doi:10.1086/173407, Bibcode1993ApJ...418..457S. 
  2. Keith, David W. (November 2000), "Geoengineering the Environment: History and Prospect", Annual Review of Energy and the Environment 25: 245–284, doi:10.1146/annurev.energy.25.1.245. 
  3. Vitousek, Peter M.; Mooney, Harold A.; Lubchenco, Jane; Melillo, Jerry M. (25 Julie 1997), "Human Domination of Earth's Ecosystems", Science 277 (5325): 494–499, doi:10.1126/science.277.5325.494. 
  4. Haberl, Helmut et al. (July 2007), "Quantifying and mapping the human appropriation of net primary production in earth's terrestrial ecosystems", Proceedings of the National Academy of Sciences of the United States of America 104 (31): 12942–7, doi:10.1073/pnas.0704243104, PMID 17616580, Bibcode2007PNAS..10412942H. 
  5. Myers, N.; Knoll, A. H. (May 8, 2001), "The biotic crisis and the future of evolution", Proceedings of the National Academy of Sciences of the United States of America 98 (1): 5389–92, doi:10.1073/pnas.091092498, PMID 11344283, Bibcode2001PNAS...98.5389M. 
  6. Myers, Norman (2000), "The Meaning of Biodiversity Loss", in Peter H. Raven en Tania Williams, Nature and human society: the quest for a sustainable world : proceedings of the 1997 Forum on Biodiversity, National Academies, pp. 63–70, ISBN 0-309-06555-0
  7. Reaka-Kudla, Marjorie L.; Wilson, Don E.; Wilson, Edward O. (1997), Biodiversity 2 (2de uitg.), Joseph Henry Press, ISBN 0-309-05584-9
  8. Bostrom, Nick (2002). "Existential Risks: Analyzing Human Extinction Scenarios and Related Hazards". Journal of Evolution and Technology. 9 (1). Besoek op 9 Augustus 2011.{{cite journal}}: CS1 maint: postscript (link)
  9. Dutch, Steven Ian (2006), "The Earth Has a Future", Geosphere 2 (3): 113–124, doi:10.1130/GES00012.1, http://geosphere.geoscienceworld.org/content/2/3/113.full.pdf+html. 
  10. Cochelin, Anne-Sophie B.; Mysak, Lawrence A.; Wang, Zhaomin (December 2006), "Simulation of long-term future climate changes with the green McGill paleoclimate model: the next glacial inception", Climatic Change 79 (3–4): 381, doi:10.1007/s10584-006-9099-1. 
  11. Lunine, J. I. (2009), "Titan as an analog of Earth’s past and future", European Physical Journal Conferences 1: 267–274, doi:10.1140/epjconf/e2009-00926-7, Bibcode2009EPJWC...1..267L. 
  12. Brownlee, Donald E. (2010), "Planetary habitability on astronomical time scales", in Schrijver, Carolus J.; Siscoe, George L., Heliophysics: Evolving Solar Activity and the Climates of Space and Earth, Cambridge University Press, ISBN 0-521-11294-X
  13. Fishbaugh, Kathryn E.; Des Marais, David J.; Korablev, François; Raulin; Lognonné, Phillipe (2007), Geology and habitability of terrestrial planets, Space Sciences Series of Issi 24, Springer, ISBN 0-387-74287-5

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search